1'n Psalm van Dawid. Alef. Wees nie toornig op die kwaaddoeners nie, beny hulle nie wat onreg doen nie;
2want soos gras sal hulle gou verwelk, en soos groen grasspruitjies sal hulle verdroog.
3Bet. Vertrou op die HERE, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid,
4en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.
5Gimel. Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer;
6en Hy sal jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag.
7Dalet. Swyg voor die HERE en verwag Hom; wees nie toornig op hom wat voorspoedig in sy weg is nie, op die man wat listige planne uitvoer nie.
8He. Laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid; wees nie toornig nie: dit is net om kwaad te stig.
9Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit.
10Wau. En nog 'n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; ja, jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie.
11Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.
12Sajin. Die goddelose bedink listige planne teen die regverdige en kners met sy tande teen hom.
13Die Here lag oor hom, want Hy sien dat sy dag kom.
14Get. Die goddelose het die swaard getrek en hulle boog gespan om die ellendige en behoeftige te laat val, om dié te slag wat opreg is van weg.
15Hulle swaard sal in hul hart gaan, en hulle boë sal verbreek word.
16Tet. 'n Klein bietjie is vir die regverdige beter as die rykdom van baie goddelose;
17want die arms van die goddelose sal verbreek word, maar die HERE ondersteun die regverdiges.
18Jod. Die HERE ken die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal tot in ewigheid bly.
19Hulle sal nie beskaamd staan in die slegte tyd nie, en in dae van hongersnood sal hulle versadig word.
20Kaf. Maar die goddelose sal omkom en die vyande van die HERE soos die prag van die weivelde; hulle verdwyn soos rook, hulle verdwyn.
21Lamed. Die goddelose leen en gee nie terug nie, maar die regverdige ontferm hom en gee;
22want die wat deur Hom geseën word, sal die aarde besit; maar die wat deur Hom vervloek word, sal uitgeroei word.
23Mem. Deur die HERE word die gange van 'n man bevestig, en Hy het 'n welbehae in sy weg.
24As hy val, dan stort hy nie neer nie; want die HERE ondersteun sy hand.
25Noen. Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.
26Die hele dag ontferm hy hom en leen uit, en sy nageslag is 'n seën.
27Samek. Wyk af van wat kwaad is, en doen wat goed is, en jy sal vir ewig woon;
28want die HERE het die reg lief en sal sy gunsgenote nie verlaat nie; vir ewig word hulle bewaar, maar die nageslag van die goddelose word uitgeroei.
29Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.
30Pe. Die mond van die regverdige verkondig wysheid, en sy tong spreek wat reg is.
31Die wet van sy God is in sy hart; sy gange sal nie wankel nie.
32Sade. Die goddelose loer op die regverdige en soek om hom dood te maak.
33Die HERE gee hom nie oor in sy hand nie, en Hy veroordeel hom nie as hy gerig word nie.
34Kof. Wag op die HERE en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog, om die aarde te besit; jy sal met welgevalle neersien op die uitroeiing van die goddelose mense.
35Resj. Ek het die goddelose gesien, 'n geweldenaar, terwyl hy hom uitbrei soos 'n groen inlandse boom.
36Toe gaan iemand verby, en kyk, hy was daar nie; en ek het hom gesoek, maar hy was nie te vinde nie.
37Sjin. Let op die vrome en kyk na die opregte, want daar is 'n toekoms vir die man van vrede.
38Maar die oortreders word tesame verdelg; die toekoms van die goddelose word afgesny.
39Tau. Maar die hulp van die regverdiges is van die HERE, hulle toevlug in tyd van benoudheid.
40En die HERE help hulle en red hulle; Hy red hulle van die goddelose mense en verlos hulle, want hulle skuil by Hom.