1Die gesig van Obadja. So sê die Here HERE aangaande Edom: Ons het 'n tyding van die HERE gehoor, en 'n boodskapper is uitgestuur onder die nasies om te sê: Staan op, en laat ons klaarmaak om teen hom te veg!
2Kyk, Ek het jou klein gemaak onder die nasies, jy is baie verag.
3Die vermetelheid van jou hart het jou bedrieg, o jy wat woon in die rotsklowe, op hoë plekke bly, en in jou hart sê: Wie sal my op die aarde neerwerp?
4Al woon jy so hoog soos die arend en al was jou nes tussen die sterre gestel — daarvandaan sal Ek jou neerwerp, spreek die HERE.
5As daar diewe, as daar nagrowers na jou gekom het — hoe is jy vernietig! — sou hulle nie net soveel gesteel het as wat vir hulle genoeg was nie? As daar druiwesnyers na jou gekom het, sou hulle nie die na-oes laat oorbly het nie?
6Hoe is Esau deursoek! Is sy verborge skatte deursnuffel!
7Al jou bondgenote het jou tot by die grens gestuur; die manne met wie jy vriendskap gehou het, het jou bedrieg, jou oorweldig; hulle lê 'n strik onder jou as jou brood. Daar is geen verstand in hom nie!
8Sal Ek nie in dié dag, spreek die HERE, die wyse manne uit Edom verdelg nie en die verstand uit die gebergte van Esau?
9En jou helde sal verskrik wees, o Teman, sodat elkeen deur moord uit die gebergte van Esau uitgeroei sal word.
10Weens die geweld teen jou broer Jakob gepleeg, sal skande jou bedek, en jy sal uitgeroei word vir ewig.
11Die dag toe jy daarby gestaan het, die dag toe vreemdes sy rykdom weggevoer en uitlanders deur sy poorte gedring en die lot oor Jerusalem gewerp het — toe was jy ook soos een van hulle!
12En tog moes jy nie met genot die dag van jou broer aanskou het nie, die dag van sy onheil, en jou nie verheug het oor die kinders van Juda op die dag van hulle ondergang nie en nie gespog het op die dag van benoudheid nie!
13Tog moes jy nie in die poort van my volk gekom het op die dag van hulle nood nie, moes jy ook nie met genot aanskou het sy onheil op die dag van sy nood nie en nie die hand uitgesteek het na sy rykdom op die dag van sy nood nie!
14En jy moes nie gestaan het op die kruispad om sy vlugtelinge uit te roei nie en nie sy vrygeraaktes uitgelewer het op die dag van benoudheid nie.
15Want die dag van die HERE is naby oor al die nasies; soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word, jou daad sal op jou hoof neerkom.
16Want net soos julle gedrink het op my heilige berg, sal al die nasies gedurigdeur drink, ja, hulle sal drink en swelg en word asof hulle nooit bestaan het nie.
17Maar op die berg Sion sal daar ontkoming wees, en dit sal 'n heiligdom wees; en die huis van Jakob sal sy besittings in besit neem.
18Dan sal die huis van Jakob 'n vuur wees en die huis van Josef 'n vlam, maar die huis van Esau 'n stoppel; en dié sal hulle aan die brand steek en hulle verteer, sodat daar geen oorblyfsel vir die huis van Esau sal wees nie, want die HERE het dit gespreek.
19Dan sal dié van die Suidland die gebergte van Esau, en dié van die Laeveld die land van die Filistyne in besit neem; en hulle sal die veld van Efraim en die veld van Samaría, en Benjamin Gílead in besit neem.
20Die ballinge van hierdie leërmag van die kinders van Israel sal die wat Kanaäniete is, tot by Sarfat verower; en die ballinge van Jerusalem, wat in Sefárad is, sal die stede van die Suidland in besit neem.
21Dan sal daar verlossers die berg Sion opgaan om die gebergte van Esau te oordeel, en die koninkryk sal aan die HERE toebehoort.