1En nadat Hy in die skuit geklim het, het Hy oorgevaar en in sy eie stad gekom.
2En hulle het 'n verlamde man wat op 'n bed lê, na Hom gebring. En toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy aan die verlamde: Seun, hou goeie moed, jou sondes is jou vergewe.
3En sommige van die skrifgeleerdes het by hulleself gesê: Hierdie man praat godslasterlik.
4En toe Jesus merk wat hulle gedagtes was, sê Hy: Waarom bedink julle slegte dinge in julle harte?
5Want wat is makliker, om te sê: Die sondes is jou vergewe! of om te sê: Staan op en loop?
6Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op aarde sondes te vergewe — toe sê Hy vir die verlamde man: Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe.
7En hy het opgestaan en huis toe gegaan.
8En toe die skare dit sien, was hulle verwonderd en het God verheerlik wat so 'n mag aan die mense gegee het.
9En toe Jesus daarvandaan verder gaan, sien Hy 'n man met die naam van Matthéüs by die tolhuis sit; en Hy sê vir hom: Volg My. En hy het opgestaan en Hom gevolg.
10En terwyl Hy in die huis aan tafel was, het daar baie tollenaars en sondaars saam met Jesus en sy dissipels aan tafel gegaan.
11En toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir sy dissipels: Waarom eet julle Meester saam met tollenaars en sondaars?
12Maar toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is.
13Maar gaan leer wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie; want Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.
14Daarna kom die dissipels van Johannes na Hom en sê: Waarom vas ons en die Fariseërs dikwels, maar u dissipels vas nie?
15En Jesus sê vir hulle: Kan die bruilofsgaste dan treur so lank as die bruidegom by hulle is? Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas.
16En niemand sit 'n nuwe stuk lap op 'n ou kleed nie; want die aangelapte stuk skeur van die kleed af en daar kom 'n erger skeur.
17'n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou leersakke nie; anders bars die sakke en die wyn loop uit en die sakke vergaan. Maar 'n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke en altwee bly behoue.
18Terwyl Hy vir hulle dit sê, kom daar 'n sekere owerste en val voor Hom neer en sê: My dogter het nou net gesterwe, maar kom en lê u hand op haar, en sy sal lewe.
19En Jesus het opgestaan en hom gevolg, en ook sy dissipels.
20En daar het 'n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, van agter gekom en die soom van sy kleed aangeraak.
21Want sy het by haarself gesê: As ek maar net sy kleed kan aanraak, sal ek gesond word.
22En Jesus het omgedraai en haar gesien en gesê: Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered. En die vrou het gesond geword van daardie uur af.
23En toe Jesus in die huis van die owerste kom en die fluitspelers sien, en die skare wat te kere gaan,
24sê Hy vir hulle: Gaan weg, want die dogtertjie is nie dood nie, maar sy slaap. En hulle het Hom uitgelag.
25En nadat die skare uitgedryf was, het Hy ingegaan en haar hand gegryp; en die dogtertjie het opgestaan.
26En die gerug hiervan het deur daardie hele land versprei.
27En toe Jesus daarvandaan verder gaan, het twee blindes Hom gevolg, terwyl hulle uitroep en sê: Wees ons barmhartig, Seun van Dawid!
28En nadat Hy in die huis gegaan het, kom die blindes na Hom toe. En Jesus sê vir hulle: Glo julle dat Ek dit kan doen? Hulle antwoord Hom: Ja, Here.
29Toe raak Hy hulle oë aan en sê: Laat dit vir julle wees volgens julle geloof.
30En hulle oë het oopgegaan. En Jesus het hulle skerp aangespreek en gesê: Pas op, laat niemand dit te wete kom nie.
31Maar hulle het heengegaan en Hom in daardie hele land bekend gemaak.
32En terwyl hulle weggaan, bring die mense 'n stom man wat van die duiwel besete was, na Hom toe.
33En nadat die duiwel uitgedryf was, het die stomme gepraat. En die skare het hulle verwonder en gesê: So iets is nog nooit in Israel gesien nie!
34Maar die Fariseërs het gesê: Deur die owerste van die duiwels dryf Hy die duiwels uit.
35En Jesus het by al die stede en dorpe rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees.
36En toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie.
37Toe sê Hy vir sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min.
38Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur.