2En daar was 'n man met die naam van Saggéüs, 'n hoof van die tollenaars en 'n ryk man.
3En hy het probeer om Jesus te sien, wie Hy was; maar vanweë die skare kon hy nie, omdat hy klein van persoon was.
4En hy het vooruit gehardloop en in 'n wildevyeboom geklim, sodat hy Hom kon sien, want Hy sou daarlangs verbygaan.
5En toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sien hom en sê vir hom: Saggéüs, maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis bly.
6Hy maak toe gou en klim af en het Hom met blydskap ontvang.
7En toe almal dit sien, het hulle gemurmureer en gesê: Hy het by 'n sondige man tuisgegaan.
8Maar Saggéüs het gaan staan en aan die Here gesê: Here, kyk, die helfte van my goed gee ek vir die armes; en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.
9Toe sê Jesus aan hom: Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom, aangesien hierdie man ook 'n seun van Abraham is.
10Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.
11En terwyl hulle na hierdie dinge luister, vertel Hy daar nog 'n gelykenis by, omdat Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn.
12Hy het dan gesê: 'n Man van hoë geboorte het na 'n ver land gereis om vir homself 'n koningskap te ontvang en dan terug te kom.
13En nadat hy tien van sy diensknegte geroep het, gee hy hulle tien ponde en sê vir hulle: Dryf handel daarmee totdat ek kom.
14Maar sy medeburgers het hom gehaat en 'n gesantskap agter hom aan gestuur om te sê: Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons moet wees nie.
15En toe hy terugkom, nadat hy die koningskap ontvang het, sê hy dat daardie diensknegte aan wie hy die geld gegee het, by hom geroep moes word, sodat hy kon weet wat elkeen met handel verdien het.
16En die eerste het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak.
17En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede.
18En die tweede kom en sê: Meneer, u pond het vyf ponde verdien.
19En hy sê ook vir hierdie een: En jy moet wees oor vyf stede.
20En 'n ander een kom en sê: Meneer, hier is u pond wat ek in 'n doek weggesit het;
21want ek was bang vir u, omdat u 'n strawwe man is; u neem weg wat u nie uitgesit het nie, en maai wat u nie gesaai het nie.
22Toe sê hy vir hom: Uit jou mond sal ek jou oordeel, slegte dienskneg! Jy het geweet dat ek 'n strawwe man is wat wegneem wat ek nie uitgesit het nie, en maai wat ek nie gesaai het nie.
23Waarom het jy dan nie my geld aan die wisselaars gegee nie? Dan kon ek dit by my koms met rente ingevorder het.
24En aan die wat daarby staan, sê hy: Neem die pond van hom weg en gee dit aan hom wat die tien ponde het —
25en hulle sê vir hom: Meneer, hy het tien ponde
26want ek sê vir julle: Aan elkeen wat het, sal gegee word, maar van hom wat nie het nie, sal weggeneem word ook wat hy het.
27Maar daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek koning oor hulle sou wees nie, bring hulle hier en slaan hulle voor my dood.
28En toe Hy dit gesê het, gaan Hy vooruit op weg na Jerusalem.
29En toe Hy naby Bétfagé en Betánië kom, by die berg wat die Olyfberg genoem word, het Hy twee van sy dissipels uitgestuur
30en gesê: Gaan in die dorp reg voor julle; en as julle daar inkom, sal julle 'n eselsvul vind wat vasgemaak is, waar geen mens ooit op gesit het nie. Maak hom los en bring hom.
31En as iemand julle vra: Waarom maak julle hom los? — moet julle so vir hom sê: Die Here het hom nodig.
32En die wat gestuur was, gaan toe en vind dit soos Hy aan hulle gesê het.
33En terwyl hulle die vul losmaak, sê die eienaars aan hulle: Waarom maak julle die vul los?
34En hulle antwoord: Die Here het hom nodig.
35Toe bring hulle hom na Jesus toe, en hulle lê hul klere op die vul en laat Jesus daarop sit.
36En terwyl Hy voortgaan, gooi hulle hul klere oop op die pad.
37En toe Hy al naby die afdraand van die Olyfberg kom, begin die hele menigte dissipels God met blydskap te prys met 'n groot stem oor al die kragtige dade wat hulle gesien het,
38terwyl hulle sê: Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here, vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele!
39En sommige van die Fariseërs uit die skare sê vir Hom: Meester, bestraf u dissipels!
40En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep.
41En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween
42en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek.
43Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande 'n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit.
44En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie.
45En toe Hy in die tempel ingegaan het, begin Hy die wat daarin verkoop en koop, uit te jaag.
46En Hy sê vir hulle: Daar is geskrywe: My huis is 'n huis van gebed. Maar julle het dit 'n rowerspelonk gemaak.
47En elke dag was Hy besig om in die tempel te leer; en die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die vernaamstes van die volk het probeer om Hom om te bring;
48en hulle het niks gevind wat hulle kon doen nie, want die hele volk het Hom aangehang en na Hom geluister.