1En toe al die konings van die Amoriete wat anderkant die Jordaan na die weste was, en al die konings van die Kanaäniete wat by die see woon, hoor dat die HERE die water van die Jordaan voor die kinders van Israel uit laat opdroog het, totdat hulle deurgetrek het, het hulle hart versmelt en was daar in hulle geen moed meer vanweë die kinders van Israel nie.
2In dié tyd het die HERE vir Josua gesê: Maak vir jou klipmesse en besny weer die kinders van Israel vir die tweede keer.
3Toe het Josua vir hom klipmesse gemaak en die kinders van Israel besny by die heuwel van die voorhuide.
4En dit is die rede dat Josua hulle besny het: Die hele volk wat uit Egipte uitgetrek het, die manspersone, al die krygsmanne, het op pad in die woestyn gesterwe, op hulle trek uit Egipte.
5Want die hele volk wat uitgetrek het, was besnede; maar die hele volk wat op pad in die woestyn gebore is, op hulle trek uit Egipte, het hulle nie besny nie.
6Want veertig jaar lank het die kinders van Israel in die woestyn getrek, totdat die hele volk omgekom het, die krygsmanne wat uit Egipte weggetrek het, wat nie aan die stem van die HERE gehoorsaam was nie; vir wie die HERE gesweer het dat Hy hulle die land nie sou laat sien wat die HERE hulle vaders met 'n eed beloof het om aan ons te gee nie — 'n land wat oorloop van melk en heuning.
7Maar in hulle plek het Hy hul seuns gestel; dié het Josua besny; want hulle was onbesnede, omdat hulle op pad nie besny is nie.
8En toe die hele volk klaar besny is, het hulle op hul plek in die laer gebly totdat hulle gesond was.
9Toe het die HERE vir Josua gesê: Vandag het Ek die smaad van Egipte van julle afgewentel. Daarom het hulle dié plek Gilgal genoem tot vandag toe.
10Terwyl die kinders van Israel by Gilgal gelaer was, het hulle die pasga gehou op die veertiende dag van die maand in die aand, in die vlaktes van Jérigo.
11En hulle het die dag ná die pasga van die opbrings van die land geëet: ongesuurde brode en gebraaide koring, daardie selfde dag.
12En die dag nadat hulle van die opbrings van die land geëet het, het die manna opgehou, sodat die kinders van Israel verder geen manna gehad het nie; maar hulle het geëet van die opbrings van die land Kanaän in daardie jaar.
13En terwyl Josua by Jérigo was, slaan hy sy oë op en kyk, en daar staan 'n man teenoor hom met 'n ontblote swaard in sy hand; en Josua het na hom gegaan en hom gevra: Behoort U by ons of by ons vyande?
14En Hy sê: Nee, maar Ek is die leërowerste van die HERE; Ek het nou gekom. Toe val Josua met sy aangesig op die grond en buig hom neer en vra Hom: Wat wil my Here aan sy dienskneg sê?
15Toe sê die leërowerste van die HERE vir Josua: Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilig. En Josua het so gedoen.