1En Jakob het gewoon in die land van die vreemdelingskap van sy vader, in die land Kanaän.
2Dit is die geskiedenis van Jakob. Josef het as seun van sewentien jaar die kleinvee opgepas saam met sy broers — hy was nog jonk — met die seuns van Bilha en die seuns van Silpa, die vroue van sy vader. En Josef het die slegte gerug oor hulle na hulle vader oorgebring.
3En Israel het Josef meer lief gehad as al sy seuns; want hy was vir hom 'n seun van die ouderdom; en hy het vir hom 'n lang rok met moue gemaak.
4Toe sy broers sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhet, het hulle hom gehaat en kon nie vriendelik met hom praat nie.
5Ook het Josef 'n droom gehad wat hy aan sy broers vertel het. Daaroor het hulle hom nog meer gehaat.
6Hy het naamlik vir hulle gesê: Hoor tog hierdie droom wat ek gehad het.
7Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan en ook regop bly staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf neerbuig.
8Toe sê sy broers aan hom: Wil jy miskien oor ons regeer? Of wil jy miskien oor ons heers? En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde.
9Daarna het hy nog 'n ander droom gehad en dit aan sy broers vertel en gesê: Kyk, ek het nog 'n droom gehad — die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig.
10Toe hy dit aan sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom hard bestraf en aan hom gesê: Wat is dit vir 'n droom wat jy gehad het? Moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig?
11En sy broers was afgunstig op hom, maar sy vader het die saak in gedagte gehou.
12En sy broers het die kleinvee van hulle vader by Sigem gaan oppas.
13Toe sê Israel vir Josef: Pas jou broers nie die vee op by Sigem nie? Kom, laat ek jou na hulle toe stuur. En hy antwoord hom: Hier is ek!
14Toe sê hy vir hom: Gaan tog verneem na die welstand van jou broers en die welstand van die vee, en bring vir my berig terug. So het hy hom dan uit die dal van Hebron weggestuur, en hy het by Sigem aangekom.
15Daarop kry 'n man hom terwyl hy in die veld ronddwaal, en die man vra hom: Wat soek jy?
16En hy antwoord: Ek soek my broers. Vertel my tog waar hulle die vee oppas.
17Toe sê die man: Hulle het hiervandaan weggetrek, want ek het hulle hoor sê: Laat ons na Dotan gaan. En Josef het agter sy broers aan gegaan en hulle in Dotan gevind.
18En hulle het hom van ver af gesien. Maar voordat hy naby hulle kom, het hulle listig raad gehou teen hom om hom dood te maak.
19En hulle het vir mekaar gesê: Daar kom daardie dromer aan!
20Kom dan nou, laat ons hom doodmaak en in een van die putte gooi en sê: 'n Wilde dier het hom opgeëet. Dan sal ons sien wat van sy drome word.
21Toe Ruben dit hoor, het hy hom uit hulle hand gered deur te sê: Laat ons hom nie doodslaan nie.
22Ruben het ook vir hulle gesê: Moenie bloed vergiet nie; gooi hom in hierdie put wat in die woestyn is, maar moenie die hand aan hom slaan nie — sodat hy hom uit hulle hand kon red om hom na sy vader terug te bring.
23En toe Josef by sy broers kom, trek hulle Josef se rok uit, die rok met lang moue wat hy aangehad het,
24en hulle neem hom en gooi hom in die put. Maar die put was leeg; daar was geen water in nie.
25Daarna het hulle gaan sit om brood te eet; en toe hulle hul oë opslaan, sien hulle meteens 'n reisgeselskap Ismaeliete wat uit Gílead kom — hulle kamele gelaai met speserye en balsem en gom op pad om dit na Egipte af te bring.
26Toe sê Juda aan sy broers: Watter voordeel is dit dat ons ons broer doodmaak en sy bloed verberg?
27Kom, laat ons hom aan die Ismaeliete verkoop, maar laat ons hand nie teen hom wees nie, want hy is ons broer, ons vlees. En sy broers het na hom geluister.
28En toe die Midianitiese koopmans verbykom, het hulle Josef uit die put uit opgetrek en uitgehaal en Josef aan die Ismaeliete verkoop vir twintig sikkels silwer. En húlle het Josef na Egipte gebring.
29Toe Ruben by die put terugkom, was Josef nie in die put nie! Daarop skeur hy sy klere,
30en hy gaan na sy broers terug en sê: Die seun is nie daar nie! En ek, waar moet ek heen?
31Toe neem hulle Josef se rok, en hulle slag 'n bok en steek die rok in die bloed,
32en hulle stuur die lang rok weg en laat dit na hulle vader bring met die woorde: Dit het ons gevind. Kyk tog goed of dit die rok van u seun is of nie.
33En hy het dit herken en gesê: Die rok van my seun! 'n Wilde dier het hom opgeëet. Verskeur, verskeur is Josef!
34Toe skeur Jakob sy klere en trek 'n roukleed om sy heupe, en hy het oor sy seun gerou, baie dae lank.
35En al sy seuns en al sy dogters het moeite gedoen om hom te troos, maar hy het geweier om hom te laat troos en gesê: Nee, treurende sal ek na my seun in die doderyk afdaal! So het sy vader hom dan beween.
36En die Midianiete het hom na Egipte verkoop aan Pótifar, 'n hofdienaar van Farao, die owerste van die lyfwag.