1En Moab het na die dood van Agab van Israel afvallig geword.
2En Ahásia het deur die tralievenster in sy bo-kamer, in Samaría, geval en siek geword. Toe stuur hy boodskappers uit en sê vir hulle: Gaan raadpleeg Baäl-Sebub, die god van Ekron, of ek van hierdie siekte gesond sal word.
3Maar die Engel van die HERE het vir Elía, die Tisbiet, gesê: Maak jou klaar, gaan op, die boodskappers van die koning van Samaría tegemoet, en spreek met hulle: Gaan julle, omdat daar glad geen God in Israel is nie, om Baäl-Sebub, die god van Ekron, te raadpleeg?
4Daarom dan, so sê die HERE: Van die bed waar jy op geklim het, sal jy nie afkom nie, want jy sal sekerlik sterwe. En Elía het gegaan.
5En toe die boodskappers by hom terugkom, sê hy vir hulle: Waarom kom julle nou terug?
6En hulle antwoord hom: 'n Man het opgekom ons tegemoet en aan ons gesê: Gaan terug na die koning wat julle gestuur het, en spreek met hom: So sê die HERE: Stuur jy, omdat daar glad geen God in Israel is nie, om Baäl-Sebub, die god van Ekron, te raadpleeg? Daarom sal jy van die bed waar jy op geklim het, nie afkom nie, want jy sal sekerlik sterwe.
7Daarop sê hy vir hulle: Hoe was die voorkoms van die man wat opgekom het julle tegemoet en hierdie woorde met julle gespreek het?
8En hulle antwoord hom: 'n Man met 'n harige mantel en omgord met 'n leergord om sy heupe. Toe sê hy: Dit is Elía, die Tisbiet!
9En hy het 'n owerste van vyftig met sy vyftig na hom gestuur. En toe hy na hom opklim, terwyl hy juis op die top van die berg sit, sê hy vir hom: Man van God, die koning spreek: Kom af!
10Toe antwoord Elía en sê aan die owerste oor vyftig: As ek dan 'n man van God is, mag daar vuur van die hemel neerdaal en jou en jou vyftig verteer! En daar het vuur van die hemel neergedaal en hom met sy vyftig verteer.
11En hy het weer 'n ander owerste oor vyftig met sy vyftig na hom gestuur; en die het begin spreek en vir hom gesê: Man van God, so sê die koning: Kom gou af!
12Daarop antwoord Elía en sê vir hulle: As ek 'n man van God is, mag daar vuur van die hemel neerdaal en jou en jou vyftig verteer! En daar het die vuur van God uit die hemel neergedaal en hom met sy vyftig verteer.
13En hy het weer 'n owerste van 'n derde vyftig met sy vyftig na hom gestuur. En die derde owerste oor vyftig het opgeklim en aangekom en op sy knieë voor Elía gebuig en hom gesmeek en vir hom gesê: Man van God, laat tog my lewe en die lewe van u dienaars, hierdie vyftig, kosbaar wees in u oë!
14Kyk, vuur het van die hemel neergedaal en die eerste twee owerstes oor vyftig met hulle vyftig verteer; maar laat my lewe nou kosbaar wees in u oë!
15Toe sê die Engel van die HERE vir Elía: Gaan saam met hom af; wees nie bevrees vir hom nie. En hy het opgestaan en saam met hom na die koning afgegaan
16en met hom gespreek: So sê die HERE: Omdat jy boodskappers gestuur het om Baäl-Sebub, die god van Ekron, te raadpleeg — is dit omdat daar glad geen God in Israel is om sy woord te raadpleeg nie? — daarom sal jy van die bed waar jy op geklim het, nie afkom nie, want jy sal sekerlik sterwe.
17En hy het gesterwe volgens die woord van die HERE wat Elía gespreek het; en Joram het in sy plek koning geword in die tweede jaar van Joram, die seun van Jósafat, die koning van Juda; want hy het geen seun gehad nie.
18En die verdere geskiedenis van Ahásia, wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?