1Toe het Moses en die kinders van Israel hierdie lied tot eer van die HERE gesing; en dit is wat hulle gesê het: Ek wil sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Die perd en sy ruiter het Hy in die see gewerp.
2Die HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem; die God van my vader, Hom sal ek verhef.
3Die HERE is 'n krygsman; HERE is sy naam.
4Hy het Farao se strydwaens en sy leërmag in die see gewerp. En sy beste vegsmanne het in die Skelfsee gesink.
5Die watervloede het hulle oordek. Hulle het in die kolke gesink soos 'n klip.
6o HERE, u regterhand is verheerlik deur krag. U regterhand, o HERE, verpletter die vyand.
7En in u grote hoogheid werp U diegene neer wat teen U opstaan. U stuur u toorngloed uit: dit verteer hulle soos 'n stoppel.
8En deur die geblaas van u neus het die waters hulle opgestapel, die strome het bly staan soos 'n wal, die watervloede het styf geword in die hart van die see.
9Die vyand het gesê: Ek sal agtervolg, inhaal, buit verdeel, my begeerte sal versadig word van hulle; ek sal my swaard trek, my hand sal hulle uitroei.
10U het met u asem geblaas: die see het hulle oordek; soos lood het hulle gesink in die geweldige waters.
11o HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen?
12U het u regterhand uitgestrek, die aarde het hulle verslind.
13U het deur u guns die volk gelei wat U verlos het; U het hulle deur u krag na u heilige woning gevoer.
14Die volke het dit gehoor, hulle het gesidder; weë het die inwoners van Filistéa aangegryp.
15Toe is die stamhoofde van Edom verskrik, bewing het die magtiges van Moab aangegryp. Al die inwoners van Kanaän het gebewe.
16Verskrikking en vrees het op hulle geval; deur die grootheid van u arm was hulle stom soos 'n klip, terwyl u volk deurtrek, HERE, terwyl die volk deurtrek wat U verwerf het.
17U bring hulle in en plant hulle op die bergland van u erfenis, die plek, o HERE, wat U as vaste woonplek vir U berei het, die heiligdom wat u hande gestig het, o Here!
18Die HERE sal regeer vir ewig en altoos.
19Want Farao se perd, met sy strydwaens en sy ruiters, het in die see ingegaan, en die HERE het die waters van die see oor hulle laat terugkom. Maar die kinders van Israel het binne-in die see op droë grond getrek.
20En Mirjam, die profetes, die suster van Aäron, het 'n tamboeryn in haar hand geneem; en al die vroue het uitgegaan agter haar aan, met tamboeryne en in koordanse.
21En Mirjam het hulle al singende geantwoord: Sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Hy het die perd met sy ruiter in die see gewerp.
22Daarop het Moses die Israeliete laat wegtrek van die Skelfsee af, en hulle het uitgetrek na die woestyn Sur. Hulle het toe drie dae lank in die woestyn getrek en geen water gekry nie.
23En hulle het in Mara gekom, maar kon die water van Mara nie drink nie, want dit was bitter. Daarom heet die plek Mara.
24Toe murmureer die volk teen Moses en sê: Wat moet ons drink?
25En hy het die HERE aangeroep, en die HERE het hom 'n stuk hout gewys; dit het hy in die water gegooi, en die water het soet geword. Daar het Hy vir hulle 'n insetting en verordening vasgestel en hulle daar beproef
26en gesê: As jy getrou na die stem van die HERE jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die HERE wat jou gesond maak.
27Daarop het hulle by Elim gekom, waar twaalf waterfonteine en sewentig palmbome was. En hulle het daar by die water laer opgeslaan.