1Toe die Kanaäniet, die koning van Arad, wat in die Suidland gewoon het, hoor dat Israel met die pad van Atarim kom, het hy teen Israel geveg en sommige van hulle as gevangenes weggevoer.
2Daarop het Israel aan die HERE 'n gelofte gedoen en gesê: As U hierdie volk heeltemal in my hand gee, sal ek hulle stede met die banvloek tref.
3En die HERE het gehoor na die stem van Israel en die Kanaäniete oorgegee. En hy het hulle en hul stede met die banvloek getref en die plek Horma genoem.
4Toe trek hulle van die berg Hor af weg op pad na die Skelfsee om die land Edom om te trek; maar die siel van die volk het op die pad ongeduldig geword.
5En die volk het teen God en teen Moses gespreek: Waarom het U ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterwe? Want daar is geen brood en geen water nie, en ons siel walg van die ellendige kos.
6Toe stuur die HERE giftige slange onder die volk wat die volk gebyt het; en baie mense uit Israel het gesterwe.
7En die volk het na Moses gekom en gesê: Ons het gesondig dat ons teen die HERE en teen u gespreek het. Bid tot die HERE, dat Hy die slange van ons wegneem. En Moses het vir die volk gebid.
8Daarop sê die HERE aan Moses: Maak vir jou 'n giftige slang en sit dit op 'n paal; dan sal elkeen wat gebyt is en daarna kyk, lewe.
9Toe het Moses 'n koperslang gemaak en dit op 'n paal gesit: en as 'n slang iemand gebyt het en hy kyk na die koperslang, het hy in die lewe gebly.
10En die kinders van Israel het weggetrek en laer opgeslaan in Obot.
11Daarna het hulle weggetrek van Obot af en laer opgeslaan in Ijje-Haäbárim in die woestyn wat oostelik aan Moab vas lê.
12Daarvandaan het hulle weggetrek en laer opgeslaan by die spruit Sered.
13Daarvandaan het hulle weggetrek en laer opgeslaan oorkant die Arnon wat in die woestyn is en uit die grondgebied van die Amoriete kom; want die Arnon is die grens van Moab, tussen Moab en die Amoriete.
14Daarom word gesê in die Boek van die Oorloë van die HERE: Waheb in Sufa en die spruite, die Arnon,
15en die hang van die spruite wat na die streek van Ar afloop en leun teen die grondgebied van Moab.
16En daarvandaan het hulle na Beër getrek. Dit is die put waarvan die HERE aan Moses gesê het: Laat die volk bymekaarkom, dat Ek vir hulle water kan gee.
17Toe het Israel hierdie lied gesing: Spring op, o put! Besing hom!
18o Put wat die vorste gegrawe het, wat die edeles van die volk gedelf het, met die septer, met hulle stawe! — En uit die woestyn uit na Mattána toe;
19en van Mattána na Naháliël; en van Naháliël na Bamot;
20en van Bamot na die dal wat in die veld van Moab lê, by die top van Pisga, en oor die wildernis afkyk.
21En Israel het boodskappers gestuur na Sihon, die koning van die Amoriete, en gesê:
22Laat my deur jou land trek. Ons sal nie wegdraai in die lande of in die wingerde nie; ons sal die water van die putte nie drink nie; ons sal die koningsweg hou tot ons deur jou grondgebied getrek het.
23Maar Sihon het Israel nie toegelaat om deur sy grondgebied te trek nie; maar Sihon het al sy manskappe versamel en uitgetrek na die woestyn, Israel tegemoet; en toe hy by Jahas kom, het hy teen Israel geveg.
24Maar Israel het hom verslaan met die skerpte van die swaard en sy land in besit geneem van die Arnon af tot by die Jabbok, tot by die kinders van Ammon; want die grens van die kinders van Ammon was sterk.
25So het Israel dan al hierdie stede ingeneem, en Israel het gewoon in al die stede van die Amoriete, in Hesbon en in al sy onderhorige plekke.
26Want Hesbon was die stad van Sihon, die koning van die Amoriete; hy het naamlik oorlog gevoer teen die vorige koning van die Moabiete en het dié se hele land tot by die Arnon uit sy hand geruk.
27Daarom sê die spreukdigters: Kom na Hesbon toe! Laat die stad van Sihon gebou en bevestig word!
28Want 'n vuur het uitgegaan uit Hesbon, 'n vlam uit die vesting van Sihon; dit het Ar van die Moabiete verteer, die bewoners van die hoogtes van Arnon.
29Wee jou, Moab! Jy is verlore, volk van Kamos! Hy het sy seuns prysgegee as vlugtelinge, en sy dogters in gevangenskap, aan Sihon, die koning van die Amoriete.
30Toe het ons hulle beskiet; verlore was Hesbon tot by Dibon; en ons het verwoes tot by Nofag, met vuur tot by Medéba.
31So het Israel dan gewoon in die land van die Amoriete.
32Daarna het Moses gestuur om Jaéser te bespied, en hulle het sy onderhorige plekke ingeneem, en hy het die Amoriete wat daar was, uit hulle besitting verdrywe.
33Toe het hulle gedraai en in die rigting van Basan opgetrek. En Og, die koning van Basan, hy en al sy manskappe het hulle tegemoetgetrek na Edréï om te veg.
34Daarop sê die HERE vir Moses: Wees nie bevrees vir hom nie, want Ek het hom en sy hele volk en sy land in jou hand gegee; en jy moet met hom doen soos jy gedoen het met Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Hesbon gewoon het.
35En hulle het hom verslaan en sy seuns en sy hele volk, totdat daar niemand van hom oor was wat vrygeraak het nie; en hulle het sy land in besit geneem.