1En die kinders van Ruben en die kinders van Gad het baie vee gehad, 'n groot menigte. En toe hulle die land van Jaéser en die land Gílead bekyk het, vind hulle uit dat die plek 'n plek vir vee was.
2Daarop het die kinders van Gad en die kinders van Ruben gekom en met Moses en die priester Eleásar en met die owerstes van die vergadering gespreek en gesê:
3Atarot en Dibon en Jaéser en Nimra en Hesbon en Eleále en Sebam en Nebo en Behon —
4die land wat die HERE voor die vergadering van Israel uit verower het — is 'n land vir vee, en u dienaars het vee.
5Verder het hulle gesê: As ons genade in u oë gevind het, laat hierdie land aan u dienaars as 'n besitting gegee word; bring ons nie oor die Jordaan nie.
6Maar Moses het die kinders van Gad en die kinders van Ruben geantwoord: Sal julle broers oorlog toe trek, en wil júlle hier bly?
7Waarom tog wil julle die hart van die kinders van Israel daarvan afkerig maak om deur te trek in die land wat die HERE aan hulle gegee het?
8So het julle vaders gedoen toe ek hulle van Kades-Barnéa af gestuur het om die land te bekyk.
9Toe hulle tot by die dal Eskol opgetrek en die land bekyk het, het hulle die hart van die kinders van Israel afkerig gemaak om in die land in te trek wat die HERE aan hulle gegee het.
10Daarom het die toorn van die HERE dieselfde dag ontvlam, en Hy het gesweer en gesê:
11Waarlik, geeneen van die manne wat uit Egipte opgetrek het, van twintig jaar oud en daarbo, sal die land sien wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob met 'n eed beloof het nie; want hulle het nie volhard om My te volg nie —
12behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne, die Kenissiet, en Josua, die seun van Nun; want hulle het volhard om die HERE te volg.
13En die toorn van die HERE het teen Israel ontvlam, en Hy het hulle veertig jaar lank in die woestyn laat rondswerwe, totdat die hele geslag verteer was wat kwaad gedoen het in die oë van die HERE.
14En kyk, julle het opgestaan in die plek van julle vaders, 'n egte kroos van sondige mense, om die toorngloed van die HERE teen Israel nog te vermeerder.
15As julle van Hom afvallig word, sal Hy hulle nog langer in die woestyn laat bly, en julle sal hierdie hele volk te gronde laat gaan.
16Toe kom hulle na hom toe aan en sê: Ons sal hier skaapkrale bou vir ons vee en stede vir ons kinders.
17Maar ons self sal ons haastig wapen voor die oë van die kinders van Israel, totdat ons hulle op hul woonplek bring; en ons kinders sal in die versterkte stede bly vanweë die bewoners van die land.
18Ons sal nie na ons huise teruggaan voordat die kinders van Israel elkeen in besit van sy erfdeel gekom het nie.
19Want ons sal nie saam met hulle wes van die Jordaan en verder weg erwe nie, omdat ons erfdeel duskant die Jordaan, teen sonop, ons s'n geword het.
20Toe sê Moses vir hulle: As julle dit doen, as julle jul voor die aangesig van die HERE vir die oorlog wapen
21en elke gewapende man van julle voor die aangesig van die HERE deur die Jordaan trek, totdat Hy sy vyande voor sy aangesig uit verdrywe het
22en die land voor die aangesig van die HERE onderwerp is, en julle daarna teruggaan, dan sal julle vrygestel wees voor die HERE en voor Israel, en hierdie land sal vir julle 'n besitting word voor die aangesig van die HERE.
23Maar as julle nie so doen nie, kyk, dan sondig julle teen die HERE, en weet dan dat julle sonde julle sal uitvind.
24Bou vir julle stede vir jul kinders en krale vir jul kleinvee, en doen wat uit julle mond uitgegaan het.
25Toe het die kinders van Gad en die kinders van Ruben met Moses gespreek en gesê: U dienaars sal doen soos my heer beveel het.
26Ons kinders, ons vroue, ons vee en al ons lasdiere sal daar in die stede van Gílead bly;
27maar u dienaars, almal wat vir die oorlog gewapen is, sal voor die aangesig van die HERE na die oorlog oortrek soos my heer gespreek het.
28Toe het Moses aangaande hulle aan die priester Eleásar en aan Josua, die seun van Nun, en aan die familiehoofde uit die stamme van die kinders van Israel bevel gegee,
29en Moses het aan hulle gesê: As die kinders van Gad en die kinders van Ruben saam met julle deur die Jordaan trek, almal wat vir die oorlog gewapen is, voor die aangesig van die HERE, en die land voor julle uit onderwerp is, gee dan aan hulle die land Gílead as 'n besitting.
30Maar as hulle nie gewapend saam met julle oortrek nie, moet hulle onder julle in die land Kanaän besittings verkry.
31En die kinders van Gad en die kinders van Ruben het geantwoord en gesê: Wat die HERE aan u dienaars gesê het, so sal ons doen.
32Ons sal gewapend oortrek voor die aangesig van die HERE na die land Kanaän, en ons erflike besitting oos van die Jordaan sal ons s'n wees.
33So het Moses dan aan hulle gegee, aan die kinders van Gad en die kinders van Ruben en die halwe stam van Manasse, die seun van Josef, die koninkryk van Sihon, koning van die Amoriete, en die koninkryk van Og, koning van Basan, die land volgens sy stede met die grondgebied wat daarby behoort, die stede van die land rondom.
34En die kinders van Gad het Dibon gebou en Atarot en Aroër
35en Aterot-Sofan en Jaéser en Jógbeha
36en Bet-Nimra en Bet-Haran, versterkte stede en skaapkrale.
37En die kinders van Ruben het Hesbon gebou en Eleále en Kirjataim
38en Nebo en Baäl-Meon — met verandering van die name — en Sibma; en hulle het die stede wat hulle gebou het, name gegee.
39En die seuns van Magir, die seun van Manasse, het na Gílead gegaan en dit verower en die Amoriete verdrywe wat daarin was.
40En Moses het Gílead aan Magir, die seun van Manasse, gegee; en hy het daarin gewoon.
41En Jaïr, die seun van Manasse, het gegaan en hulle tentdorpe ingeneem en dit tentdorpe van Jaïr genoem.
42En Nobag het gegaan en Kenat en die onderhorige plekke ingeneem en dit sy naam Nobag gegee.