1En Hy het ook aan sy dissipels gesê: Daar was 'n ryk man wat 'n bestuurder gehad het; en hy is by hom aangeklaag as een wat sy besittings verkwis.
2En hy het hom geroep en vir hom gesê: Wat is dit wat ek van jou hoor? Gee verslag van jou bestuur van sake; want jy sal nie meer bestuurder kan wees nie.
3Toe sê die bestuurder by homself: Wat sal ek doen? Want my heer neem die bestuurderskap van my weg. Spit kan ek nie; om te bedel, skaam ek my.
4Ek weet wat ek sal doen, sodat wanneer ek van die bestuurderskap afgesit is, hulle my in hulle huise kan ontvang.
5Toe roep hy die skuldenaars van sy heer, een vir een, en sê vir die eerste: Hoeveel skuld jy aan my heer?
6En hy antwoord: honderd vat olie. En hy sê vir hom: Neem jou skuldbewys, gaan sit en skryf gou vyftig.
7Daarna sê hy vir 'n ander een: En jy, hoeveel skuld jy? En hy antwoord: honderd mud koring. Toe sê hy vir hom: Neem jou skuldbewys en skryf tagtig.
8En die heer het die onregverdige bestuurder geprys, omdat hy verstandig gehandel het; want die kinders van hierdie wêreld is verstandiger teenoor hulle geslag as die kinders van die lig.
9En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon, sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang.
10Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig.
11As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die ware goed toevertrou?
12En as julle nie getrou was in 'n ander se goed nie, wie sal aan julle jul eie gee?
13Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal òf die een haat en die ander een liefhê, òf die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.
14En die Fariseërs, wat geldgierig was, het ook al hierdie dinge gehoor en Hom beskimp.
15En Hy het vir hulle gesê: Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is 'n gruwel voor God.
16Die wet en die profete was tot op Johannes; van toe af word die evangelie van die koninkryk van God verkondig, en elkeen dring met geweld daarin.
17Maar dit is makliker dat die hemel en die aarde verbygaan as dat een tittel van die wet sou val.
18Elkeen wat van sy vrou skei en 'n ander een trou, pleeg egbreuk; en elkeen wat trou met die vrou wat van haar man geskei is, pleeg egbreuk.
19En daar was 'n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe.
20En daar was 'n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het.
21En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek.
22En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.
23En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.
24En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.
25Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte.
26En by dit alles is daar tussen ons en julle 'n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.
27En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur —
28want ek het vyf broers — om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie.
29Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister.
30Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer.
31Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.