1En in dié dae was daar geen koning in Israel nie. En 'n Levitiese man het as vreemdeling vertoef agter in die gebergte van Efraim; en hy het vir hom 'n vrou, 'n byvrou, geneem uit Betlehem-Juda.
2Maar sy byvrou het by hom gehoereer en van hom weggegaan na haar vader se huis, na Betlehem-Juda; en sy was daar vier maande lank.
3Daarop maak haar man klaar en gaan haar agterna om na haar hart te spreek en haar terug te bring; sy dienaar was by hom met 'n paar esels. En toe sy hom in die huis van haar vader bring en die vader van die jong vrou hom sien, was hy bly om hom te ontmoet.
4En sy skoonvader, die vader van die jong vrou, het hom teruggehou, sodat hy drie dae by hom gebly het; en hulle het geëet en gedrink en die nag daar oorgebly.
5Maar terwyl hulle op die vierde dag vroeg in die môre opstaan en hy klaarmaak om weg te gaan, sê die vader van die jong vrou vir sy skoonseun: Versterk jou hart met 'n stukkie brood, en daarna kan julle weggaan.
6En hulle het gebly, en hulle twee het saam geëet en gedrink. Daarop sê die vader van die jong vrou aan die man: Bly tog asseblief die nag oor, en laat jou hart vrolik wees.
7Toe die man egter klaarmaak om weg te gaan, het sy skoonvader by hom aangedring, sodat hy weer die nag daar oorgebly het.
8Terwyl hy op die vyfde dag vroeg in die môre klaarmaak om weg te gaan, sê die vader van die jong vrou: Versterk jou hart tog, en vertoef julle tot agtermiddag. En hulle twee het geëet.
9Maar toe die man klaarmaak om weg te gaan, hy en sy byvrou en sy dienaar, sê sy skoonvader, die vader van die jong vrou, vir hom: Kyk, die son sak, dit wil aand word; bly julle maar die nag oor: kyk, dit is al laat, bly die nag hier oor, en laat jou hart vrolik wees; dan kan julle môre vroeg klaarmaak vir julle reis en na jou tente toe gaan.
10Maar die man wou nie die nag oorbly nie en het klaargemaak en weggetrek en gekom tot teenoor Jebus — dit is Jerusalem — met 'n paar opgesaalde esels by hom; ook sy byvrou was by hom.
11En toe hulle by Jebus kom en die son al baie gesak het, sê die dienaar aan sy heer: Kom tog, laat ons uitdraai na hierdie stad van die Jebusiete en daarin vernag.
12Maar sy heer sê aan hom: Ons kan nie uitdraai na 'n vreemde stad waar nie van die kinders van Israel is nie, maar ons moet verbytrek tot by Gíbea.
13Verder sê hy aan sy dienaar: Trek, laat ons nader kom by een van die plekke en in Gíbea of Rama vernag.
14So het hulle dan verder verbygetrek; en die son het vir hulle ondergegaan by Gíbea wat aan Benjamin behoort.
15Toe draai hulle daar uit om in Gíbea te gaan vernag. En hy het ingekom en gebly op die plein van die stad, want daar was niemand wat hulle in sy huis opgeneem het om te vernag nie.
16Maar kyk, in die aand kom daar 'n ou man uit die veld van sy werk af, en die man was van die gebergte van Efraim afkomstig en het in Gíbea as vreemdeling vertoef; maar die manne van die plek was Benjaminiete.
17En toe hy sy oë opslaan, sien hy die reisiger op die plein van die stad, en die ou man vra: Waar gaan u heen, en waar kom u vandaan?
18En hy sê vir hom: Ons trek deur van Betlehem-Juda tot agter in die gebergte van Efraim; ek kom daarvandaan en het tot by Betlehem-Juda gereis, en ek gaan na die huis van die HERE; maar hier is niemand wat my in sy huis opneem nie,
19alhoewel ons esels strooi sowel as voer het, en daar ook brood en wyn is vir myself en vir u dienares en vir die bediende wat by u dienaars is; daar is aan geen ding gebrek nie.
20Toe sê die ou man: Vrede vir jou! alleenlik, al wat u kortkom, is vir my rekening; u moet net nie op die plein vernag nie.
21Daarop het hy hom in sy huis ingebring en aan die esels voer gegee; en nadat hulle hul voete gewas het, het hulle geëet en gedrink.
22Terwyl hulle hul hart vrolik maak, omsingel die manne van die stad, slegte manne, meteens die huis en klop hard aan die deur; en hulle spreek met die ou man, die eienaar van die huis, en sê: Bring die man uit wat in jou huis ingekom het, dat ons hom kan beken.
23Daarop gaan die man, die eienaar van die huis, uit na hulle en sê aan hulle: Nee, my broers, moet tog nie kwaad doen nie, aangesien hierdie man in my huis ingekom het; moet nie hierdie skanddaad begaan nie.
24Hier is my dogter wat 'n jongmeisie is, en sy byvrou; laat ek hulle uitbring, onteer hulle dan en maak met hulle wat goed is in julle oë, maar aan hierdie man mag julle so 'n skanddaad nie begaan nie.
25Toe die manne nie na hom wou luister nie, gryp die man sy byvrou en bring haar uit na hulle daarbuite; en hulle het haar beken en die hele nag deur haar mishandel, tot die môre toe, en haar laat loop toe die rooidag uitkom.
26En teen dagbreek het die vrou gekom en neergeval voor die ingang van die man se huis waar haar heer was, totdat dit lig was.
27En toe haar heer die môre opstaan en die huisdeure oopmaak en uitgaan om sy reis voort te sit — kyk, daar lê die vrou, sy byvrou, voor die ingang van die huis met haar hande op die drumpel.
28En hy sê vir haar: Staan op en laat ons trek; maar niemand antwoord nie. Daarop het hy haar op die esel gelaai, en die man het klaargemaak en na sy woonplek getrek.
29Maar toe hy in sy huis kom, het hy 'n mes geneem en sy byvrou gegryp en haar stukkend gesny volgens haar gebeente in twaalf stukke en dit in die hele grondgebied van Israel rondgestuur.
30En elkeen wat dit sien, het gesê: So iets het nie gebeur en is nie gesien van die dag af dat die kinders van Israel uit Egipteland opgetrek het tot vandag toe nie; neem dit tog ter harte, gee raad en spreek!